Slaan oor na inhoud

Pariteit en almag

5 Oktober 2010

Die heelal waarin ons leef is nie ‘n “ja, ja, ja”-heelal nie. Dit is ‘n janee-heelal. Wat ek daarmee bedoel is dat daar goeie en slegte dinge in hierdie heelal is. God het dit goedgevind om die heelal so te maak en daarna verklaar dat dit goed is — dat dit inderdaad baie goed is. Wat Hy daarmee bedoel het is mens nie seker nie, maar ek vermoed dat dit beteken dat die goeie en die slegte saam sal meewerk tot ‘n goeie uiteinde.

Nou in die tussentyd sit ons egter met hierdie pariteit van die goeie aan die een kant en die slegte aan die ander kant. Hierdie twee is in voortdurende wisselwerking met mekaar. Dit lei tot ‘n dinamika in hierdie heelal wat uiteindelik tot groei, verandering en vernuwing lei. Wanneer mens terug kyk in die verlede, en die geskiedenis van die aarde en die mensdom ontleed, dan vind mens dat katastrofiese gebeure baie maal gelei het tot ‘n nuwe herlewing en vernuwing wat andersins nie sou plaasgevind het nie.

Deur die loop van die geskiedenis wanneer mense sulke swaar beproewings beleef het, het hulle baie maal nader na God beweeg omdat hulle by God beskerming kon vind. Hulle het besef dat die beproewings ‘n gegewe realiteit is en dat hulle deel is van ‘n baie groter werklikheid waarvan hulle maar ‘n baie klein deeltjie vorm.

In die tussentyd het daar egter ‘n paradigma skuif plaasgevind. Die mensdom het meer individualisties geword. So word elke mens dan nou op ‘n troontjie verhef, amper asof elke mens die god en koning van sy eie heelal kon wees. Hierdie klein heelalletjie ontstaan wanneer jy gebore is en hou op bestaan wanneer jy sterf. Tussen hierdie twee punktuasies is jy die god en koning van jou eie heelalletjie. Alles daarin moet aangenaam, gerieflik en wonderlik wees en dit wat daarbuite is maak eenvoudig nie saak nie. Die mens sien homself nie meer deel van ‘n groter geheel nie en hy tree ook nie meer op asof hy deel van ‘n groter geheel is nie.

Binne hierdie konteks maak die slegte wat noodwendig deel van hierdie pariteitsheelal is nou nie meer sin nie — ten minste nie gesien in die lig daarvan dat ‘n almagtige God hierdie heelal gemaak het nie. Hoe kan God dan nou toelaat dat een van hierdie koning-god wesens in sy klein heelalletjie moet lei onder rampe en beproewings?

Wag nou! Daar is darem goed wat in die geskiedenis plaasgevind het wat baie erger is as net blote ongerief. Is dit nie geregverdig om hierdie vraag te vra met betrekking tot hierdie ontsettende dinge wat plaasgevind het nie? Mens dink onwillekeurig aan volksmoord, soos wat die Nazi’s byvoorbeeld op die Jode uitgevoer het. Hoe verskriklik moet dit wees om op ‘n trein te wees waar jou bestemming se enigste doel is om jou sistematies van kant te maak. Mens sou wou hê dat God moes ingryp.

Maar God gryp nie in nie. Dis nie hoe dit werk nie. Die mensdom moet self leer. Die mensdom moet verantwoordelikheid neem. Die holocast was nie die eerste, of enigste, of eers die ergste mense slagting wat ooit plaasgevind het nie. Dit is amper een van die mens se kenmerkende eieskappe dat hy die vreeslikste goed aan sy medemens kan doen. God laat die mens geen ander uitweg as om uit sy foute te moet leer nie. Dit is soos dit in hierdie heelal werk en die mens se verontwaardiging oor die saak gaan niks daaraan verander nie.

Tog staan God nie apaties ten opsigte van die hele situasie nie. Hy verskaf die rigtingaanwyser sodat mensdom sy pad uit die slegte wat met hom gebeur kan vind:

Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, … —1Pet 1:19,20

Reeds voor die skepping van die wêreld …

God het dus geweet dat die heelal wat Hy gaan skep verlossing gaan nodig hê. Nogtans het Hy voortgegaan om die wêreld te skep want dit is hoe Hy die wêreld wou skep. ‘n Heelal met pariteit. ‘n Heelal wat deur hierdie pariteit sal ontwikkel en ontluik. ‘n Heelal met trane, maar waar die trane sal plek maak vir vreugde wat juis meer uitbundig is danksy die trane.

Om dus in opstand te kom teen die slegte in hierdie heelal en daarom te beweer dat God nie bestaan nie, gaan nie maak dat die slegte uit die heelal verdwyn nie. God is goed in die sin dat Hy vir ons die uitkoms gee. Die feit dat Hy die heelal met pariteit gemaak het beteken nie dat God sleg is nie. Dit sou dan beteken dat mens die skrywer van ‘n moordverhaal as ‘n moordenaar moet bestempel.

Dit sal die mens baat om weer die perspektief op te neem van sy ware plek in hierdie heelal, nie as ‘n selfgesentreerde god-koning nie, maar ‘n deel van die heelal aan wie ‘n besondere stel vermoëns en daarmee saam ‘n besondere verantwoordelikheid gegee is.

Een Kommentaar
  1. Sonderwoorde permalink
    6 Oktober 2010 6:10 nm

    Briljant verwoord! Dit maak my so siek wanneer ongelowiges vra: Nou ja? Waar is jou God dan nou? Ons moet verantwoordelikheid neem v ons dade! Moenie wonder waar God is wanneer jy in jou eie brousel geval het nie! Dankie FF!

Comments are closed.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.