Slaan oor na inhoud

Passie

10 Oktober 2010

Miskien ken julle ook sulke mense. Hulle kom voorendag met die een idee na die ander oor hoe om geld te maak. Partykeer probeer hulle selfs om van hierdie idees te implementeer. Hulle sal selfs hope geld spandeer in ‘n poging om die idee te laat werk. Nogtans, keer op keer loop dit uit op ‘n totale mislukking en baie maal beteken dit dat daardie hoop geld gemors is.

Dan ken mens ook ander tipe mense. Hulle pak net een ding aan en dis ‘n sukses. Hulle sal geduldig eers al die nodige kennis bekom en dan stelselmatig deur al die stappe gaan om te doen wat nodig is totdat hulle uiteindelik hul doel bereik. Baie maal kan dit wees dat dit jare vat, maar nogtans byt hulle vas totdat hulle dan eendag sukses behaal.

Ek het al baie maal gewonder waar die verskil lê. Wat is dit wat maak dan die eerste groep keer op keer faal ten spyte van ‘n swetterjoel idees, terwyl die tweede groep net een idee nodig het om sukses te behaal? Is dit persoonlikheid? Dit het waarskynlik daarmee te doen. Is dit ‘n kwessie van geluk? Nee wat, ek dink nie geluk het enigiets daarmee uit te waai nie.

Op hierdie stadium van my lewe, nadat ek nou al baie mense van beide groepe waargeneem het, het ek ‘n redelike goeie idee waar die verskil lê. Dit het alles te doen met passie — nee nie hartstog wat mens vir ‘n ander mens voel nie, maar die intense belangstelling in iets in die lewe. Dit kan engiets wees: tuinmaak, klavier speel, ou karre, sterre bekyk deur jy teleskoop, branderplank ry, klein hondjies. Nie alles kan noodwendig eendag as ‘n beroep dien nie,maar baie daarvan kan tog op een of ander manier in ‘n beroep omgesit word. As jy in so situasie is, dan is jou kanse op ‘n suksesvolle beroepslewe baie groter.

Hoe meer ek kyk na die mensdom en dit wat alles bereik is sien ek die passievolle mense wat ons kan bedank vir al hierdie bydraes. Die groot deurbrake in die wetenskap, die hoogtepunte in kuns en musiek, alles is bereik deur mense wat ‘n passie gehad het vir wat hulle doen. Wil jy iets in die lewe bereik? Moenie droom van baie geld en dan bloot geld najaag nie. Dit gaan jou nêrens bring nie. Nee, fokus op dit wat jy geniet en waarmee jy goed is. Spandeer al jou energie daarop en wanneer jy eendag jou oë uitveë dan sien jy dat die geld sommer so vanself bygekom het. Is Roger Federer ‘n goeie tennis speler omdat hy graag op daardie manier wou geld maak? Nee, dis omdat hy ‘n passie het vir tennis speel.

Nou laat dit my ook sommer dink aan al die kinders wat die hele dag sit en rekenaarspeletjies speel. Dis iets wat al die passie wat kinders het totaal vernietig. Niks anders in die lewe is meer vir hulle interessant en lekker nie. Rekenaarspeletjies maak passie dood. Ek weet nie wat mens moet doen nie, maar op een of ander manier moet mens sulke kinders sover kry om daardie rekenaarspeletjies te los en belangstelling in die lewe te ontwikkel. Anders gaan die lewe vir hulle ‘n baie groot afgesaagde gedoente wees as hulle die dag groot is.

 

3 Kommentaar
  1. 13 Oktober 2010 2:14 vm

    Ek kan net amen en sela op hierdie een, Flippie. :wink:

    Dit moet vreeslik wees om nie ‘n passie vir IETS te wil he nie.

  2. Mefri permalink
    13 Oktober 2010 10:47 nm

    Flippiefanus, jy slaan die spyker op sy kop. Ek weet sowaar nie hoe mens passie sal definieer nie, maar een ding weet ek wel; dis ‘n ingeboude gevestigde liefde vir iets wat spontaan aangedryf word deur ‘n onuitblusbare drang wat na uiting en verwesenliking smag.

    Miskien is ons juis so bedraad om ‘n verskil in die samelewing te maak en daarom ervaar ons onvervuldheid; ‘n leemte of ‘n gat in ons menswees, as ons dit nie najaag nie.

    Soos altyd het ek jou skrywe baie geniet.

  3. 12 November 2010 10:54 vm

    27 weke….(joh 11:35) Jesus wept.

Comments are closed.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.