Slaan oor na inhoud

‘n Ligte briesie dalk?

17 Junie 2011

Sommer skielik net lus gekry. Hier sit ek met my nuwe Macbook Air op Ottawa se lughawe en wag vir my vlug London toe terwyl ek gebruik maak van die gratis WiFi om bietjie web te surf. So hoekom sal ek nie sommer vir die wêreld vertel daarvan nie? Hulle sal tog in elk geval net lees as hulle regtig daarin belangstel.

Die goggabyt van skryf juk nogsteeds al is dit nou al hoe lank wat ek stil is. Dit juk nogal veral as ek hier en daar lees oor wat daar geskryf word oor die kerk en Christenskap.

Wel miskien moet ek nie nou daaroor skryf nie. Waaroor sal ek dan skryf? Wel laat ek ten minste dit noem. Ek het die afgelope twee weke wat ek hier in Ottawa gekuier het twee maal die geleentheid gehad om kerk by te woon in die Kanata Baptiste kerk en dit tref my hoe tuis ek daar voel, baie meer as in die kerk in SA waarin ek groot geword het (julle kan maar raai watter een dit is, julle sal waarskynlik reg raai).

Komende Sondag (wanneer ek nie meer hier is nie) moet die klein knapie van my vriende hier (hul jongste seun) die skrifvoorlesing in die kerk doen. Ek sou dit so graag wou kon bywoon. Maar nou ja so werk dit nou maar.

Dit tref my dat dit redelik onwaarskynlik is om ‘n klein seuntjie te sien die skiflesing doen in die kerk in SA waarin ek groot geword. Die rede is nie dat die kerk te stug is daarvoor nie (dit dalk ook), die rede is eerder dat daar weinig klein seuntjies in daardie kerk is. Die enkele kere wat ek nog kerkdienste in hierdie kerk in SA bywoon skok dit my telkens as ek by die kerk instap, want dit lyk asof ek per ongeluk in ‘n ouetehuis ingestap het. Ek het niks teen ou mense nie maar my aarde. Dit voel vir my ek wil reguit na die kansel toe loop en die leraar op die skouer klop en hom vra:

Dominee hoekom is jou gemeente so oud?

Nou ja, op die ou end het ek toe tog daaroor geskryf. Dalk teveel geskryf. Die tuin is immers nogsteeds maar bra stil. Wel, miskien is daar tog ‘n ligte briesie. ;-)

5 Kommentaar
  1. 17 Junie 2011 11:28 vm

    Goed om te sien daar’s nog lewe hier! :)

  2. 17 Junie 2011 12:18 nm

    Hoera – jy skryf weer – al is dit net bietjie :-)

    Doen jouself eendag die guns as jy in die omtrek is – gaan na die Strooidakkerk in die Paarl. Jy sal verbaas wees hoe jonk is almal daar ;-)

  3. flippiefanus permalink*
    18 Junie 2011 5:06 nm

    Eenmaal ‘n woeraar, altyd ‘n woeraar. ;-)

    My waarnemings is seker maar net geldig vir die spesifieke gemeente wat ek bygewoon het. Dit was nou maar net vir my baie treffend.

  4. 20 Junie 2011 4:12 vm

    Ek het vroeër (gisteraand) aan jou gedink en van jou gepraat, die bries het seker jou geur aangedra, want iets het my 3uur uit die bed gejaag en jouwaarlik hier is jy!

    Ek het myself al jaregelede dieselfde vraag afgevra. Meeste van die skape het nou aangesluit by ‘n “ander kraal” hier by ons. Beide die oggenddienste van Alberton Lewensentrum is Sondae volgepak en selfs die aanddiens word goed deur gesinne bygewoon, maar die deelname waarvan jy van praat is ook daar afwesig.

  5. 17 Julie 2011 2:59 nm

    ..en daar is toe tog nog lewe!
    Daar is meer herlewing in oorsese kerke as in Suid Afrika wat hom voordoen as vlamdraer vir Christendom.

Comments are closed.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.