Slaan oor na inhoud

Niven se wet

25 Junie 2011

So met die gedagte aan hier in SA bly, dink ek nou sommer weer aan iets wat ek ander dag raakgelees het. Een van my voorliefdes is wetenskapfiksie en een van die wetenskapfiksie skrywers wie se boeke ek destyds verslind het is Larry Niven.

Nou die dag kom ek toe af op Niven se wet. Dit beweer dat die produk van sekuriteit en vryheid ‘n konstante is. Met ander woorde, as jy gaan moeite doen om baie sekuriteit in jou lewe te kry dan gaan jy op ‘n manier ‘n mate van jou vryheid moet opgee. Daarteenoor, as jy iemand is wat ‘n groot waarde plaas op jou vryheid gaan jy noodgedwonge ‘n mate van sekuriteit moet inboet.

Dit het my nogal laat dink aan die situasie wat ons hier in SA het. Mense kan tot ‘n groot mate hier in ons land maak nes hulle lus het. Juis om daardie rede is mens nie altyd so veilig nie. Nou moet mens noodgewonde allerande sekuriteitsmaatreels implimenteer om ‘n mens te beveilig. Die gevolg is dat mens dan skielik nie meer so vry is. Jy moet jouself letterlik opsluit.

Is dit dan anders in ander lande? Wel miskien kan jy daar in die aand gaan rondloop sonder om onveilig te voel, maar as mens mooi oor die saak dink dan besef jy dat jou vryheid op ‘n ander manier daar ingeperk word. Die rede hoekom dit so veilig voel daar is juis omdat die samelewing daar meer gereguleer is. Jy is nie so vry om te doen wat jy wil nie. Snaaks dat dit so moet werk.

Vir my is my vryheid baie belangrik. Ek hou nie daarvan om deur iemand beheer of ingeperk te word nie. Maar my sekuriteit is ook belangrik. Ek wil nie onveilig voel nie. So nou kom dit neer op ‘n kompromie. Hoeveel is ek bereid om van die een in te boet ter wille van die ander. Die lewe is nou eenmaal maar nie eenvoudig nie.

 

6 Kommentaar
  1. 26 Junie 2011 7:00 vm

    Interessante skrywe. Maar ek kan nie saamstem dat mens noodwendig vryheid inboet as mens meer sekuriteit het nie. Soos jy duidelik uitwys werk dit in SA so, maar is nie waar van alle lande nie. SA is nie noodwendig minder gereguleerd nie (neem bv rookwetgewing en talle ander wetgewing). Die rede vir misdaad is nie omdat mense meer vryheid het en ‘n gebrek aan regulering nie. Dis bloot die simptoom van ‘n inherent siek samelewing, waar menselewens nie veel werd is nie, gekombineerd met kreupel staatsinstellings wat mag het, maar nie gesag nie.

  2. 26 Junie 2011 8:04 vm

    Interessant! Ek het al van talle van my pelle in Oz verneem dat die gereguleerdheid van die samelewing daar hulle nogal vang. Die regering het ‘n vinger in elke pie, en mense is ontsettend wetsgehoorsaam (iets wat ons natuurlik nie gewoond is nie).

    Hoewel dit liggamlike veiligheid beteken, mis hulle die vryheud van ‘gees’ wat ons so eg Suid-Afrikaans maak.

    Dis nou hoorsĂȘ, hoor!

  3. 26 Junie 2011 10:43 nm

    Nee wat, ek dink nie die mate van onveiligheid in SA het iets uit te waai met die mate van vryheid nie. Vryheid is tog ‘n goeie ding.
    Dis eerder ons geskiedenis en die rasbepaalde ongelykheid wat dit gebring het, asook die swak bestuur van die polisie.

  4. flippiefanus permalink*
    2 Julie 2011 7:08 vm

    Ja Boer, Niven se “wet” is waarskynlikheid maar meer ‘n geneigtheid as is wat onweerlegbaar is. Dit is ieder geval waarskynlik nie geformuleer in die konteks van SA nie. Bygese, die gereguleerheid in SA is maar net op papier. Die wette word grootendeels verontagsaam.

    Murphy, dis waar ek het ook gehoor dat Australie nogal baie gereguleerd is.

    Allleman, ek vermoed die onderliggende boodskap van Niven se wet is juis dat mens ‘n prys betaal vir vryheid. Al is dit ‘n goeie ding beteken dit nie dat mens nie in die proses iets inboet nie.

  5. 4 Julie 2011 8:42 vm

    “Die produk van sekuriteit en vryheid is ‘n konstante.” Noutoenou. Wanneer dit gebruik word in die konteks van ‘n staatsbestel, word vryheid juis verseker, en nie net ingeperk nie, deur ‘n behoorlik gereguleerde stel wetgewing, waarin beide publieke en privaatreg behoorlik administreer word. Suid-Afrika bied toenemend kwynende sekuriteit – en in die proses kwynende vryheid – juis as gevolg van ‘n gebrek aan behoorlike administrasie van die publieke en privaatreg in die staatsbestel. Deurdat daar ‘n gebrek aan die opbou en onderhoud van sekuriteit (wetsgehoorsaamheid) is, word vryheid ingeboet, eerder as uitgebrei. Beide sekuriteit EN vryheid word beskerm juis deur konstante regulering – konstante regulering vermeerder nie die een ten koste van die ander nie. Net so min as wat sekuriteit nie gedefinieer kan word sonder om perke daar te stel nie, kan vryheid daarsonder gedefinieer word.

  6. flippiefanus permalink*
    6 Julie 2011 4:18 nm

    Noutoe, welkom hier, maar vergeef my as ek nie met jou saamstem nie. Probleem is dat wanneer ons van “vryheid” praat ons waarskynlik nie dieselfde ding bedoel nie. Vryheid soos wat deur ‘n staat se wette beskerm word is ‘n baie meer beperkte konsep as die vryheid wat ek, en waarskynlik Niven in gedagte gehad het.

Comments are closed.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.