Bedoeling

Aanvanklik was daar geen spesifieke bedoeling met my woernaal nie. Ek wou maar eenvoudig oor allerande aspekte van my lewe, my ervarings en my opinies skryf. Een van die aspekte van my lewe wat noodwendig op ‘n stadium na vore sou kom is my geloof. Kort nadat my eerste inskrywings verskyn het waarin ek my geloof laat blyk het, was ek egter deur van die ander woeraars gewaarsku oor die reaksie wat ek sou kry. In my naïwiteit het ek egter voortgegaan om oor geloofsake te skryf. Kort voor lank het dit toe inderdaad gebeur dat ek in redenasies oor die saak betrokke geraak het. Ek hou egter van redeneer. Daarom het hierdie redenasie my nie van stryk gebring nie, maar my eerder aangespoor om meer oor geloofsake te skryf.

So het dit dan gekom dat ek besef het dat daar dalk ‘n meer spesifieke bedoeling met my woernaal kan wees, naamlik om die onkunde wat oor die Christelike geloof bestaan te beveg. Hierdie is ‘n eindelose stryd, want afgesien van die wydverspreide onkunde wat daaroor bestaan, is hierdie onkunde tot ‘n groot mate weerbarstig. Veral by ateïste het ek gevind dat dit nie soseer is dat hulle nie kan verstaan nie, maar eerder dat hulle nie wil verstaan nie. Aspekte wat ek reeds met omslagtigheid verduidelik het, word doelbewus geïgnoreer en dieselfde miskonsepsies word weer van voor af opgedis as argumente. Wel dan gaan mens en verduidelik maar weer van voor af, of verwys na vorige verduidelikings.

In die proses het my woernaal nou ‘n eie karakter ontwikkel. Al was hierdie karakter nie wat ek aanvanklik beplan het nie, is ek nogtans nie ontevrede daarmee nie. In so vêrre dit vir my moontlik is, beplan ek nou om dit so te hou. Nogtans wil ek nie uitsluitlik oor geloofsake skryf nie. Wie weet, miskien verander dit weer mettertyd in ‘n ander rigting.

Ek is ‘n Christengelowige wat glo in ‘n lewende God wat uit liefde vir Sy skepping daarby betrokke is, en spesifiek betrokke is by die mensdom, die kroon van Sy skepping. Weens my geloof het meeste van my inskrywings oor geloofsake dan ook ‘n spesifieke perspektief, naamlik dat God bestaan en betrokke is. Ek voel ook nie dat ek hierdie perspektief hoef te verdedig nie. Nogtans kan ek, soos ek van tyd tot tyd ook doen, vanuit ‘n suiwer sekulêre perspektief redeneer. Meestal gebruik ek sulke redenasies om aan te toon dat die resultate van sulke sekulêre redenasies ooreenstem met Christelike beginsels.

My wens is dat almal wat hier by my lees dit interessant en stimulerend sal vind. Ek verwelkom alle opinies, al gun ek myself natuurlik die reg om daarvan te verskil. :wink:

2 Responses to “Bedoeling”

  1. Berns Says:

    Hi FF,

    Ek was bietjie afwesig van die blogosfeer met ‘n 6 weke vakansie in SA en baie werk na my terugkeer. Ek was nogal verbaas om te sien hoe die algemene trant van jou woernaal verander het. Toe lees ek hier en nou maak dit heeltemal sin. Ek dink dis great dat jy ‘n apologetiese standpunt in neem hier, veral teen wêreldse onkunde oor God. Ek vind ook nogal dat op my woernaal meer begin fokus op my Christenskap. My apologetiese fokus is egter om Christene te help en inligting te gee om hulle te bewaar teen valse leeringe wat die kerk betree.

    Hou gerus my woernaal ook dop vir inligting wat dalk vir jou opbouend kan wees.

    Groetnis,
    Berns

  2. ekke Says:

    Hallo, het nog nie van jou geloofs-woere gelees nie (gaan nou), maar dog sal jou solank ook van mhy blog vertel wat oor oa. ook geloofsake gaan. Aan die begin ook lank en aanhoudend deel geneem aan ‘n teologiese debat. Ek het ook gevoel, soos jy se, mense wil nie hoor nie!

    Groete

    ekke (http://ekkedink.wordpress.com/)

Leave a Reply