Soekstof

13 Oktober 2009

In die tuine rondom die paleis vind mens soms struike en bome wat so dig opmekaar groei dat dit ‘n digte bos vorm. As mens op hierdie dag langs een van hierdie bosse sou verbystap sou jy ‘n sagte gesnik hoor, soos iemand wat huil. As jy dan versigtig tussen die takke sou deurklim sou jy in hierdie betrokke bos op ‘n opening afkom. In die middel van die opening sou jy ‘n klein droewig prinsie op ‘n klip sien sit met sy kop wat op sy hande rus.

Die prinsie sit nog so droewig en dink aan sy verlore steentjie toe hoor hy ‘n geritsel in die takke. Hy kyk op en daar sien hy iemand in snaakse klere wat op ‘n tak sit en na hom kyk. Die prinsie herken die knapie in die boom want al wat hy sê is: “O dis jy”. Dan verberg hy weer sy gesig in sy hande en snik verder.

Die knapie is ‘n elf en die prinsie ken hierdie spesifieke elfie baie goed want hy het al baie maal vantevore saam met hom hier in die bos gespeel.

“Hoekom huil jy prinsie?”

“Ek het my steentjie verloor?”

“Watse steentjie, en hoe het dit gebeur?”

So tussen die snikke deur vertel die prinsie vir die vers-elf (want dis wat die elf homself noem) die hele droewige verhaal.

“Wel”, sê die vers-elf, “daar is iets wat aan die probleem gedoen kan word. Vanaand net na sononder moet jy ons net buite die poort van paleis gronde kry.”

Daardie aand, net na ete, glip die prinsie uit die paleis en gaan na die poort. Daar buite kry hy ‘n hele groepie van die elwe. Die vers-elf stel eers al die elwe aan die prinsie voor: “Dis lied-elf, hierdie is hop-elf, daar is fluit-elf, daar staan dans-elf, langs hom is harp-elf en …” so word almal voorgestel.

Hulle lei die prinsie deur die stad tot by ‘n deur in ‘n stegie. langs die deur is daar ‘n venter op ‘n skrefie oop. Die elwe maak die venster oop en beduie vir die prinsie om in te klim.

Die prinsie huiwer egter, want hy is nie gewoond daaraan om geboue deur ‘n venster binne te gaan nie. Dan verduidelik die vers-elf: “Dit is die perseel van die koninklike juweelsmede. As daar ‘n plek is waar die verlore steentjie sal wees dan is dit hierbinne.” Die prinsie klim deur die venter, gevolg deur die elwe. Hulle bevind hulle in ‘n werkswinkel waar die smede hul aambag beoefen. Dit is vol werksbanke, kaste, kabinete, trommels, en sommer ‘n klomp rommel wat rondlê.

Die prinsie kyk moedverlore rond. Dit gaan jare vat om hierdie plek deur te soek. Hy draai na die vers-elf. Laasgenoemde staan met ‘n selfvoldane glimlag op sy gesig. Dan steek hy sy hand in sy broeksak en haal ‘n sakke uit wat met ‘n toutjie toegebind is. Nadat hy die toutjie losgemaak het, keer hy die sakkie in die palm van sy hand om.

Die prinsie kom nader om te kyk wat in die elf se handpalm lê. Hy sien daar spierwit stof wat so effens glinster. “Wat is dit?”, vra hy.

“Dit is soekstof?” antwood die vers-elf en knipoog vir die prinsie.

Dan hou hy sy hand met die stof omhoog en begin hoogdrawend praat:

Soekstof, soekstof in my hand,
waar o waar dan heen
in die land van sand
is die prinsie se kosbare steen?

Is dit dalk in die sand
of dalk in die poel
of aan die onderkant
van die rystoel …

… en so gaan hy aan.

Terwyl hy so met sy rymelary besig is begin die hop-elf al rondom hom huppel. Dan haal die fluit-elf sy fluit uit en begin daarop speel en die harp-elf begin harp speel. Die lied-elf begin sing en die dans-elf begin dans. Al die elwe begin doen wat hulle name beskryf. Dit raak heel uitbundig en vrolik.

Die prinsie staan die hele petalje met verbasing en aanlyk. Dit lyk nie vir hom of dit gaan end kry nie. Hy moet sy stem verhef om bo die lawaai gehoor te word: “Verskoon my, maar het julle gekom om partyjie te hou of om my te help om my steentjie te vind?”

Die elwe kom dan weer tot bedaring en die vers-elf kyk verleë na die prinsie, “O gits, jammer prinsie, maar ons hou nogal van ons vermaaklikheid en as ons eers begin het dan vergeet ons skoon waarmee ons eintlik besig was.”

Die vers-elf blaas dan liggies oor die stof. Die stof verrys in ‘n glinsterende stofwolkie en beweeg deur die vertrek. Dit maak sulke kolke in die lug terwyl dit van werksbank tot kas beweeg. Partykeer verdwyn die hele wolkie deur ‘n sleutelgat van ‘n kas, om dan weer kort daarna daar uit te peul en met krulle en draai verder te beweeg. Die prinsie en die elwe kyk met afwagting na die wolkie soos dit deur die hele werkswinkel beweeg, maar dit lyk nie asof die wolkie enigiets vind nie.

Dan beweeg dit skielik deur die sleutelgat van ‘n glasdeur na ‘n naburige vertrek toe. Die elwe hardloop na die glasdeur met die prinsie agterna. Dit lyk asof die vertrek een of ander kantoor is. Daar is ‘n groot lessenaar met ‘n klomp klein laaitjies. Die wolkie is egter nêrens sigbaar nie.

Terwyl almal rondkyk om te probeer sien waar die stofwolkie heen is, begin daar skielik ‘n sterk lig deur ‘n sleutelgaatjie van een van die laaitjies skyn. “Daar is dit!” roep die vers-elf, “die soekstof het die steentjie gevind!”

Die prinsie begin eers baie benoud raak omdat die glasdeur gesluit is, maar die elwe laat hulle nie sommer deur ‘n geslote deur stuit nie. Nadat hulle so bietjie by die deur se slot met iets gevroetel het, is die deur oop en almal peul oormekaar om by die laaitjie te kom. Dit is ook gesluit, maar weereens met so bietjie gevroetel is diè ook oop. Ewe triomfantlik styg die stofwolkie uit die oopgetrekde laaitjie op. Dit gloei nou so helder soos ‘n vlam. In die laaitjie is daar ‘n hele klomp edelsteentjies, maar die prinsie herken onmiddelik sy pragtige blou-groen steentjie.

Hy tel dit op en begin spontaan rondhuppel en sing. Die elwe laat natuurlik nie op hulle wag nie. Elkeen begin sing of dans of fluitspeel of wat ookal die tipe ding is wat hy altyd doen.

Almal behalwe die vers-elf. Met ‘n selfvoldane glimlag haal hy die sakkie uit sy broeksak en hou dit oop onder die gloeiende stofwolkie. Laasgenoemde val dan stadig terug in die sakkie. Hy bind die sakkie toe en plaas dit terug in sy broeksak. Dan volg hy die vrolik groepie terug na die venster toe, terwyl hy rympies maak oor die suksesvolle onderneming. natuurlik sorg hy ook dt alles weer geslote gelaat word soos wat dit was.

As mens iewers in ‘n huis in daardie stad sou probeer slaap het daardie aand, sou jy dalk ‘n vrolike gesingery gehoor het, maar die sang is van so ‘n meesleurende aard dat jy sommer so sou omgedraai het en verder geslaap het.


Gehoorsaamheid

8 Oktober 2009

Wanneer ‘n volwasse persoon seksuele interaksie met ‘n minderjarige persoon (iemand jonger as 18 jaar) het, word dit as statutêre verkragtig beskou. Dit maak nie saak of die minderjarige die daad goedgekeur het of selfs die volwassene verlei het nie. Die rede? Minderjariges word beskou as te jonk om daartoe instaat te wees om sulke besluite te neem. Hulle het nog nie die insig om in alle gevalle die gevolge van hulle dade te besef nie. Kinders is ook baie beïnvloedbaar en daarom kan hulle maklik slagoffers wees van allerande misbruike.

Hoe jonger kinders is hoe meer ontbreek die nodige kennis en insig. Dus is hulle nog meer beïnvloedbaar en makliker om te mislei as hulle baie jonk is. Hulle moet ook baie maal teen hulself beskerm word, want hulle kan dinge aanvang wat hulself kan benadeel.

Dit is dus nodig dat daar iemand moet wees om kinders te beskerm. Ouers is daar om hierdie rol te vervul. Hulle moet die kinders beskerm teen ander mense wat moontlik die kinders wil benadeel, maar hulle moet ook sorg dat die kinder nie hulself in gevaar stel nie.

seuntjie

Weens die gebrek aan kennis en insig kan kinders nie altyd die rede verstaan hoekom hulle sekere goed nie mag doen nie. In sulke gevalle is dit dus nodig dat die ouers eenvoudig die kind beveel om iets te doen of nie te doen nie. Ter wille van die kind se eie veiligheid is dit nodig dat die kind gehoor gee aan hierdie reëls wat deur die ouers gemaak word.

Dit is dus van kardinal belang dat die kind gehoorsaam moet wees.

Gehoorsaamheid staan in vir die gebrek aan kennis en insig. Eendag as die kind groot is sal die redes vir die reëls en bepalinge wat sy ouers neergelê het, duidelik word, maar terwyl die kind nog die kennis en insig ontbreek is dit nodig dat die kind eenvoudig gehoorsaam moet wees. Wanneer die kind ongehoorsaam is, is dit nodig om die kind deur een of ander vorm van dissiplinering te leer om gehoorsaam te wees.

————————-

Daar was ‘n tyd toe die mensdom as ‘n geheel kennis en insig ontbreek het. Dit was die tyd voor die wetenskap bestaan het, ‘n tyd toe die mensdom nie geweet het van genetika en baterieë nie. Die mens kon tog op ‘n manier, deur te sien wat mense laat doodgaan, leer wat mens nie moet doen nie. Hierdie reëls kon vasgelê word in die kulture en op so manier kon die mensdom voortbestaan.

Ongelukkig is die kultuur meganisme te stadig om die mensdom teen alle moontlike bedreigings te beskerm. Daarom was dit nodig dat die Skepper aan die mensdom sekere reëls gee om die mens teen homself te beskerm. Weens sy gebrekkige kennis was die mens nie daartoe instaat om te verstaan hoekom hierdie reëls nodig was nie. Dit was eenvoudig nodig dat die mens die reëls moet gehoorsaam.

Baie van hierdie reëls is opgeteken in die Ou Testament. As ons vandag na hiedie reëls kyk lyk dit baie primitief, amper barbaars, maar dit is omdat ons daarna kyk vanuit ons hedendaagse paradigma. As ons na hierdie reëls sou kyk binne die konteks van die kultuur van daardie tyd, met begrip van die gebrek aan kennis en insig wat in daardie tyd bestaan het, dan maak die reëls sin.

Omdat gehoorsaamheid so belangrik was vir die oorlewing van die mensdom maak dit ook sin dat daar swaar strawwe moes wees vir ongehoorsaamheid. Vandag klink hierdie strawwe vir mens baie erg, maar gesien in die lig van die omstandighede van daardie tyd kan mens dit verstaan.

Vandag het ons meer kennis. Ons het die wetenskap. Tog ontbreek ons nog baie insig. Ons is nou soos tieners wat oud genoeg is om te verstaan dat ons ouers nie perfek is nie, maar nog nie oud genoeg om te verstaan dat ons hulle moet vergewe nie. Die mensdom sien die reëls van die Ou Testament en veroordeel dit deur dit te meet aan sy huidige maatstawwe. Hopenlik sal die mens eendag genoeg insig hê om te besef dat dit nie sin maak om reëls (en kulture in die algemeen) wat in die vroeë tye bestaan het teen maatstawwe te meet wat vandag gehandhaaf word nie.


Van Galway tot Bristol

3 Oktober 2009

So rukkie terug het ek ‘n geleentheid gehad om ‘n draai te maak daar op die Britse eilande. In die proses was ek in Galway op die weskus van Ierland en ook in Bristol.

'n Stadsplein naby die Hippodrome langs die rivier in Bristol

'n Stadsplein naby die Hippodrome langs die rivier in Bristol

Wanneer daar van Ierland gepraat word dink meeste mense waarskynlik aan Leprechauns, Guiness en St. Patrick. Daar is egter ‘n paar ander dinge wat ek van Ierland geleer het.

Uitsig op die Galway katedraal

Uitsig op die Galway katedraal

Meeste mense weet waarskynlik dat Ierland deel is van die Europese Unie, maar hoeveel weet dat, weens die onlangse ekonomiese groei in Ierland, dit min of meer die duurste land in die Europese Unie is.

Tog het Ierland maar net ‘n bevolking van bietjie meer as 4 miljoen mense. Dublin is (natuurlik) die grootste stad met omtrent ‘n miljoen inwoners, dan tweede is Cork met sowat 200 duisend, daarna kom Limerick met 90 duisend en vierde is Galway met sowat 70 duisend inwoners.

Galway word as ghôlway uitgespreek. Dis ‘n kleurvolle stad met karatervolle straatjies vol klein winkeltjies waar mens na hartelus kan inkopies doen.

Winkeltjies in Galway

Winkeltjies in Galway

Mens hoor altyd dat Ierland so groen is — the emerald island …

Groen landelike deel in Ierland

Groen landelike deel in Ierland

… tog is daar dele wat maar redelik klipperig is. Suid van Galway is daar ‘n deel wat bekend staan as die Burren. Hier kry mens klippe (Carboniphorous sandsteen) wat deur die baie reën verweer word.

Sansteen wat deurdie reën verweer is

Sandsteen wat deurdie reën verweer is

In hierdie omgewing is daar ook nog Ierland se beste hoop om een van die wêreld se sewe wonders te hê: the cliffs of Moher

Cliffs of Moher

Cliffs of Moher

Daar is baie ou kastele en murasies in Ierland. Meeste is deur die Nore gebou nadat hulle Ierland tydens die middeleeue vanuit Normandië ingeval het.

Noorse kasteel langs Galwaybaai

Noorse kasteel langs Galwaybaai

galway2Ierse Gealic is saam met Engels die amptelike landstale van Ierland. Oral sien mens naamborde met beide die Engelse en die Gealic name vir plekke. Dit is egter ‘n moeilike taal en baie min Iere praat Gealic as moedertaal. In Gealic is daar blykbaar nie woorde vir “ja” en “nee” nie.

Ierland is ook die land waar Rustig homself bevind en hy het my nog nie vergewe dat ek nie daar by hom gaan gekuier het terwyl ek in Ierland was nie. Jammer man. Hopenlik sal ek weer ‘n geleentheid kry om Ierland toe te gaan en vir hom gaan kuier.


Spam-junkie

29 September 2009

Maak nie saak waar ek gaan kommentaar lewer nie, dit verdwyn soos mis voor die son. So pas terug van ‘n amper twee weke lange reis, maar dit lyk asof ek nog steeds maar kon weg gewees het. Voel soos ‘n spook.


Kosbare steentjie

21 September 2009

Een dag terwyl die klein prinsie deur ‘n veld langs die paleistuine stap sien hy iets blik op die grond. By nadere inspeksie ontdek hy ‘n pragtige deurskynende blou klippie. As hy daardeur na die lug kyk sien hy die pragtigste skakerings van blou en groen. Heel opgewonde met sy ontdekking huppel hy kasteel toe om vir sy ma te gaan wys.

Skaars het hy die kasteel betree of hy loop die Meester van Formaliteite raak. Laasgenoemde sien dat die prinsie iets in sy handjie houvas en vra: “Prinsie, wat het jy daar?”

Die prinsie wys toe sy “steentjie”, soos hy dit noem, vir die Meester van Formaliteite. “Maar my wêreld prinsie, weet jy dan nie dat jou vader se koningkryk oor die beste juweliersmede in die hele wye wêreld beskik nie? Hierdie edelsteentjie sal soveel beter lyk as dit behoorlik geset is in ‘n gepasde juweel.” Die prinsie wou nog protesteer, maar voor hy so oë kon uitvee is die Meester van Formaliteite weg met sy steentjie. Daar is dan nou ook niks anders te doen as om maar geduldig te wag dat die befaamde juweliersmede klaarkry met die “gepasde juweel” sodat hy darem weer sy steentjie kan terugkry nie.

So breek die dag dan nou toe aan wat die Meester van Formaliteite die “gepasde juweel” aan die prinsie gaan kom demonstreer. Met groot opgewondenheid betree die prinsie die vertrek. Die Meester staan geduldig en wag langs ‘n tafel met een of ander voorwerp wat onder ‘n doek verberg word. Rondom die tafel staan daar ‘n hele klomp mense in deftige klere. Nadat die prinsie op ‘n stoel voor die tafel gesit het lig die Meester die doek op. Onder die doek is daar ‘n juweelkissie wat swierig versier is met allerande goue versierings en toegemaak is met ‘n goue gespe. Die Meester wuif sy hand grasieus oor die kissie en maak dan die delikate gespe los.

Die prinsie se oë is groot, want hy sien met afwagting uit daarna om weer die blou glinstering van sy steentjie te sien. Helaas, toe die kissie oopgemaak word sien hy ‘n ander doek. Die Meeter van Formaliteite raak in vervoering oor die doek wat blykbaar van vêr af ingevoer is en met fyn goue draad geweef is.

juweelDie Meester van Formaliteite gaan dan voort om versigtig die kosbare doek binne die juweelkissie oop te vou. Die prinsie kan nie meer wag nie, maar wat sal hy sien? ‘n Groen eier met goue patroontjies op. Nou raak die Meester eers weer in vervoering oor die eier. Die prinsie sit rustig terug en onderdruk ‘n sug.

Uiteindelik kry die Meester klaar met sy storie oor die eier. Dan druk hy ewe melodramaties ‘n klein knoppie bo-op die eier. Die boonste helfte van die eier vou dan skielik oop. Binne in die eier is daar ‘n takkie met ‘n goue roosknoppie aan die punt. Die prinsie moet voorentoe beur om die delikate blom beter te kan sien.

Dit is eintlik ‘n meganiese struktuur wat gemaak is om soos ‘n roosknoppie te lyk. Direk nadat die eier oopgegaan het, het die meganiese roosknoppie self ook stadig begin om oop te vou.

Die prinsie spring van die stoel af op en kom staan by die tafel sodat hy by die goue roos kan in sien. Daar is egter niks behalwe goue blomblaartjies nie. Sy gesiggie toon totale terleurstelling. Hy kyk na die Meester en vra: “Waar is my steentjie?”

Die Meester van Formaliteite kyk vies na die prinsie. “Dit is iewers … verlê.”

Die prinsie se onderlippie begin te bewe.

“Maar my wêreld prinsie, hierdie juweel is tog baie meer werd as jou ou steentjie. Het jy enige idee hoeveel ure die juweliersmede hieraan gewerk het? Besef jy hoeveel dit die staatkas gekos het om al hierdie middele te versamel? Ons kan tog vir jou ‘n ander edelgesteente kry om in die roos te set. Hoekom moet dit nou juis daardie steentjie wees?”

Die prinsie begin droewig te huil. Hy draai om en loop kop onderstebo by die vertrek uit.