Skip to content

Reg en geregtigheid, regverdigheid en regte

3 September 2011

Daar word vertel dat wanneer kinders in hulle kleuterstadium is, dit die beste tyd is om vir hulle te leer van reg en verkeerd. Op daardie stadium van hul lewens soek kinders blykbaar hul sekuriteit in reëls wat verduidelik wat hul mag doen en wat nie. Ek is nie ‘n kindersielkundige nie, dus weet ek nie of dit waar is nie. In ieder geval is daar ‘n stadium in mens se lewe wat mens dinge wil sien as wit of swart. Dit wat reg is word beloon en dit wat verkeerd is word gestraf. En daar is ‘n mooi reguit blou lyn wat tussen die twee getrek is.

As mens ouer word leer mens dat daardie blou lyn baie dof kan wees en op plekke is dit soms ‘n groot grys area. Mens leer ook dat diegene wat verkeerd doen nie altyd gestraf word nie en dat diegene wat reg doen nie altyd beloon word nie. Wanneer mens dan op ‘n keer uitroep dat dit nie regverdig is nie, kom iemand en vra: wie het jou vertel dat die lewe regverdig is?

Ek dink dit is in die aard van die mens om te soek na geregtigheid en dat mens eers die smart van ongeregtigheid sou moes ervaar voordat mens daardie soeke na geregtigheid in jou eie gemoed kan versmoor. Eers dan, so dink ek, kan ‘n mens self ongeregtighede pleeg. Maar dis nie my doel om nou hier die gedagtes van kriminele elemente te analiseer nie.

Mens lees in die Bybel van sonde: wat sonde is en wat die gevolge van sonde is. Mens lees ook dat God ‘n God van geregtigheid is wat die sondaar straf. Mens lees ook dat God ‘n God van liefde en genade is. Dit spreek dus van uitnemende vindingrykheid dat God ‘n manier gekry het om reg en geregtigheid steeds te laat seëvier terwyl hy aan die mense vergifnis kon skenk.

Die wêreld wil egter nie meer weet van reg en geregtigheid nie, want dit lyk nie uit die alledaagse lewe of dit alles regverdig is nie. In die plek daarvan kom nou die regte van die mens. In stede daarvan dat ‘n owerheid reg moet toepas, kan elke mens nou veg vir sy regte. Nou sit ons met ‘n wêreld wat op sy kop gedraai is. Mens lees van ‘n oorvloed vlugtelinge wat Europa instroom sodat hulle dansky hul regte op die Europeërs se onkoste daar kan loop leeglê. Mens lees van onluste omdat onwettige immigrante voel dat daar nie aan hul regte voldoen word nie. Iewers het iets verkeerd geloop en reg en geregtigheid het in die slag gebly.

Die indruk word geskep dat die Bybel baie naïef is oor regverdigheid in die lewe. Maar dan hoef mens maar net Job of Prediker te lees. Die Bybel leer ons dat mens versigtig moet wees om regverdigheid te vereis, want geen mens is vanuit homself geregverdig nie. Ons kan bloot op genade hoop.

 

 

Nuwe insigte

10 Julie 2011

Aan al diegene met wie ek altyd so lekker oor filosofie gestry het en teenoor wie ek altyd ruiterlik erken het dat ek eintlik niks van filosofie weet nie, julle sal dalk verheug wees om te hoor dat ek toe vir my ‘n boek oor filosofie gaan koop het. Moet egter nie vir my vra watter boek dit is nie want jy gaan waarskynlik terleurgestel wees.

Ek het nou al ‘n redelike ent in die boek in gelees. En … ?

Wel so vêr moet ek sê dat my opinie oor filosofie tot ‘n groot mate bevestig is. Daar is maar min daarvan wat die moeite werd is om oor huis toe te skryf. Mens kan die klomp filosowe min of meer in drie kategorieë verdeel.

  1. Die wat eenvoudig snert praat
  2. Die wat goed kwyt raak wat in elk geval algemene kennis is
  3. Die enkelles wat iets sinvols kwytgeraak het

Vanuit die derde kategorie moet ek eers bietjie stilstaan by Descartes. Dis nou die ou wat gesê het “I think therefore I am.” Wel die storie daaragter is dat hy wou bepaal wat hy met sekerheid kon agter kom bloot deur filosofies daaroor te dink. En al wat hy op die ou end met sekerheid kon verklaar was dat hy bestaan.

I rest my case.

 

Niven se wet

25 Junie 2011

So met die gedagte aan hier in SA bly, dink ek nou sommer weer aan iets wat ek ander dag raakgelees het. Een van my voorliefdes is wetenskapfiksie en een van die wetenskapfiksie skrywers wie se boeke ek destyds verslind het is Larry Niven.

Nou die dag kom ek toe af op Niven se wet. Dit beweer dat die produk van sekuriteit en vryheid ‘n konstante is. Met ander woorde, as jy gaan moeite doen om baie sekuriteit in jou lewe te kry dan gaan jy op ‘n manier ‘n mate van jou vryheid moet opgee. Daarteenoor, as jy iemand is wat ‘n groot waarde plaas op jou vryheid gaan jy noodgedwonge ‘n mate van sekuriteit moet inboet.

Dit het my nogal laat dink aan die situasie wat ons hier in SA het. Mense kan tot ‘n groot mate hier in ons land maak nes hulle lus het. Juis om daardie rede is mens nie altyd so veilig nie. Nou moet mens noodgewonde allerande sekuriteitsmaatreels implimenteer om ‘n mens te beveilig. Die gevolg is dat mens dan skielik nie meer so vry is. Jy moet jouself letterlik opsluit.

Is dit dan anders in ander lande? Wel miskien kan jy daar in die aand gaan rondloop sonder om onveilig te voel, maar as mens mooi oor die saak dink dan besef jy dat jou vryheid op ‘n ander manier daar ingeperk word. Die rede hoekom dit so veilig voel daar is juis omdat die samelewing daar meer gereguleer is. Jy is nie so vry om te doen wat jy wil nie. Snaaks dat dit so moet werk.

Vir my is my vryheid baie belangrik. Ek hou nie daarvan om deur iemand beheer of ingeperk te word nie. Maar my sekuriteit is ook belangrik. Ek wil nie onveilig voel nie. So nou kom dit neer op ‘n kompromie. Hoeveel is ek bereid om van die een in te boet ter wille van die ander. Die lewe is nou eenmaal maar nie eenvoudig nie.

 

Bly om terug te wees

21 Junie 2011

Dis die eerste keer in ‘n baie lang tyd wat ek dit met eerlikheid kon sê. Die shuttle was skaars oppad Pretoria toe van OR Tambo af toe ek die bestruuder vertel dat ek bly is om terug te wees in SA. Dis ook nie sommer net daardie OOs-Wes-Tuis-Bes-bly-om-terug-te-wees nie. Nee, dis nader aan die spesifieke wete dat ek terug is in Suid Afrika, die land wat ek nou my tuiste gemaak het.

Moenie ‘n fout maak nie, ek dink nogsteeds nie Suid Afrika is ‘n wonderlike land nie. Mens kannie eerlik met jouself wees as jy beweer dat SA nie probleme het nie. Maar ek dink met hierdie reis, het ek ‘n sekere waterskeiding oorgesteek. Ek het by die punt gekom dat ek vrede gemaak het met die feit dat ek nou weer terug is in my geboorteland.

Op hierdie reis was ek onder andere in Ottawa, waar ek vir lank in Kanada gebly het. Ek het weer ingeloer by ou vriende en weer die herhinneringe gekry aan hoe dit is om daar te lewe. Weer onthou hoe lastig die muskiete kan wees in die Lente, maar ook weer ervaar hoe lekker dit is om daar te gaan shop. Daar is net soveel winkels met soveel dinge wat ek graag sou wou kon koop.

Maar ek bly nie meer daar nie en al dink ek dat ek heel maklik weer daar sal kan aanpas, muskiete en al, is daar nie meer daardie sterk hunkering om terug te gaan soontoe nie.

Ek het uiteindelik, na amper 7 jaar terug in SA, weer hier aangepas.

 

‘n Ligte briesie dalk?

17 Junie 2011

Sommer skielik net lus gekry. Hier sit ek met my nuwe Macbook Air op Ottawa se lughawe en wag vir my vlug London toe terwyl ek gebruik maak van die gratis WiFi om bietjie web te surf. So hoekom sal ek nie sommer vir die wêreld vertel daarvan nie? Hulle sal tog in elk geval net lees as hulle regtig daarin belangstel.

Die goggabyt van skryf juk nogsteeds al is dit nou al hoe lank wat ek stil is. Dit juk nogal veral as ek hier en daar lees oor wat daar geskryf word oor die kerk en Christenskap.

Wel miskien moet ek nie nou daaroor skryf nie. Waaroor sal ek dan skryf? Wel laat ek ten minste dit noem. Ek het die afgelope twee weke wat ek hier in Ottawa gekuier het twee maal die geleentheid gehad om kerk by te woon in die Kanata Baptiste kerk en dit tref my hoe tuis ek daar voel, baie meer as in die kerk in SA waarin ek groot geword het (julle kan maar raai watter een dit is, julle sal waarskynlik reg raai).

Komende Sondag (wanneer ek nie meer hier is nie) moet die klein knapie van my vriende hier (hul jongste seun) die skrifvoorlesing in die kerk doen. Ek sou dit so graag wou kon bywoon. Maar nou ja so werk dit nou maar.

Dit tref my dat dit redelik onwaarskynlik is om ‘n klein seuntjie te sien die skiflesing doen in die kerk in SA waarin ek groot geword. Die rede is nie dat die kerk te stug is daarvoor nie (dit dalk ook), die rede is eerder dat daar weinig klein seuntjies in daardie kerk is. Die enkele kere wat ek nog kerkdienste in hierdie kerk in SA bywoon skok dit my telkens as ek by die kerk instap, want dit lyk asof ek per ongeluk in ‘n ouetehuis ingestap het. Ek het niks teen ou mense nie maar my aarde. Dit voel vir my ek wil reguit na die kansel toe loop en die leraar op die skouer klop en hom vra:

Dominee hoekom is jou gemeente so oud?

Nou ja, op die ou end het ek toe tog daaroor geskryf. Dalk teveel geskryf. Die tuin is immers nogsteeds maar bra stil. Wel, miskien is daar tog ‘n ligte briesie.😉

‘n Tuin wat stil geword het

14 Oktober 2010

Daar in die hoek staan die groot boom met sy groot sagte blare. Aan hierdie kant groei die struik met sy rooierige blare en langs hom is die een met die blink groen blaartjies en die wit blommetjies wat so lekker reuk dwarsdeur die hele tuin kan gee. Die prinsie ken al die plante en bome en selfs die blommetjies wat partykeer sommer so vanself tussen die struike opslaan.

Die wind ritsel saggies deur die tuin en roer hier en daar ‘n takkie. Die middag son hang laag en lug begin so amper ‘n oranje kleur kry. Dat laat die plante en struike so vol ryp kleur kry. Afgesien van die wind is daar amper geen klank nie.

Waar die prinsie op die grootklip sit kan hy die hele gunsteling hoekie van die tuin sien. Daar is die stomp waarop die veldmuis gesit het toe Prinsie hom die eerste keer gesien het. Hier langs die klip is die stomp waarop die eekhorinkie altyd sy neute sit en eet. Daar in die mik van die tak was die nessie waar die mossie hulle kleintjie kos gegee het. Mens kan nou nog die hopie grond in die middel van die gras sien waar die mol sy huisie gemaak het.

Maar nou is dit stil. Die veldmuis het verkas na die rustigheid van die grasvlaktes. Die eekhorinkie het ‘n ander boom loop soek. Die mossies se kleintjies het groot geword en weggevlieg. Self die slangetjie wat die prinsie so laat skrik het, het sy vertrek geneem. Nou is daar niemand meer nie. Die tuin het stil geword en die klein prinsie het niemand om mee te gesels nie.

Dan staan hy op en begin traag terugstap kasteel toe. Terwyl hy so stap besef hy dat hy waarskyn nooit weer hierdie hoekie van die tuin wat altyd sy gunsteling deel van die kasteeltuine was sal besoek nie.

Passie

10 Oktober 2010

Miskien ken julle ook sulke mense. Hulle kom voorendag met die een idee na die ander oor hoe om geld te maak. Partykeer probeer hulle selfs om van hierdie idees te implementeer. Hulle sal selfs hope geld spandeer in ‘n poging om die idee te laat werk. Nogtans, keer op keer loop dit uit op ‘n totale mislukking en baie maal beteken dit dat daardie hoop geld gemors is.

Dan ken mens ook ander tipe mense. Hulle pak net een ding aan en dis ‘n sukses. Hulle sal geduldig eers al die nodige kennis bekom en dan stelselmatig deur al die stappe gaan om te doen wat nodig is totdat hulle uiteindelik hul doel bereik. Baie maal kan dit wees dat dit jare vat, maar nogtans byt hulle vas totdat hulle dan eendag sukses behaal.

Ek het al baie maal gewonder waar die verskil lê. Wat is dit wat maak dan die eerste groep keer op keer faal ten spyte van ‘n swetterjoel idees, terwyl die tweede groep net een idee nodig het om sukses te behaal? Is dit persoonlikheid? Dit het waarskynlik daarmee te doen. Is dit ‘n kwessie van geluk? Nee wat, ek dink nie geluk het enigiets daarmee uit te waai nie.

Op hierdie stadium van my lewe, nadat ek nou al baie mense van beide groepe waargeneem het, het ek ‘n redelike goeie idee waar die verskil lê. Dit het alles te doen met passie — nee nie hartstog wat mens vir ‘n ander mens voel nie, maar die intense belangstelling in iets in die lewe. Dit kan engiets wees: tuinmaak, klavier speel, ou karre, sterre bekyk deur jy teleskoop, branderplank ry, klein hondjies. Nie alles kan noodwendig eendag as ‘n beroep dien nie,maar baie daarvan kan tog op een of ander manier in ‘n beroep omgesit word. As jy in so situasie is, dan is jou kanse op ‘n suksesvolle beroepslewe baie groter.

Hoe meer ek kyk na die mensdom en dit wat alles bereik is sien ek die passievolle mense wat ons kan bedank vir al hierdie bydraes. Die groot deurbrake in die wetenskap, die hoogtepunte in kuns en musiek, alles is bereik deur mense wat ‘n passie gehad het vir wat hulle doen. Wil jy iets in die lewe bereik? Moenie droom van baie geld en dan bloot geld najaag nie. Dit gaan jou nêrens bring nie. Nee, fokus op dit wat jy geniet en waarmee jy goed is. Spandeer al jou energie daarop en wanneer jy eendag jou oë uitveë dan sien jy dat die geld sommer so vanself bygekom het. Is Roger Federer ‘n goeie tennis speler omdat hy graag op daardie manier wou geld maak? Nee, dis omdat hy ‘n passie het vir tennis speel.

Nou laat dit my ook sommer dink aan al die kinders wat die hele dag sit en rekenaarspeletjies speel. Dis iets wat al die passie wat kinders het totaal vernietig. Niks anders in die lewe is meer vir hulle interessant en lekker nie. Rekenaarspeletjies maak passie dood. Ek weet nie wat mens moet doen nie, maar op een of ander manier moet mens sulke kinders sover kry om daardie rekenaarspeletjies te los en belangstelling in die lewe te ontwikkel. Anders gaan die lewe vir hulle ‘n baie groot afgesaagde gedoente wees as hulle die dag groot is.