“Beam me up Scotty”

Julle ken seker almal hierdie gesegde wat kom uit die TV reeks Star Trek. Miskien het julle al gewonder of die wetenskap dalk daartoe instaat sal wees om tegnologie te ontwikkel wat dit sal moontlik maak vir ‘n mens om so van een plek na ‘n ander ge”beam” te word. Wel ek twyfel of dit ooit heeltemal ‘n realiteit sal word, maar tog bestaan daar in die kleine ‘n proses wat iets wat eers op een plek bestaan het, oor te dra na ‘n ander plek.

Verbeel jou jy het ‘n spesiale boksie waarin jy ‘n kosbare voorwerpie kan stoor. Hierdie voorwerp het ‘n spesiale eienskap. Dit is gekoppel aan ‘n soortgelyk voorwerp in ‘n soortgelyke boksie wat in iemand anders se besit is. Die voorwerpies in hierdie twee boksies het een of ander besondere koppeling met mekaar ten spyte daarvan dat die twee boksies vêr van mekaar af is. Gestel die ander persoon wil vir jou ‘n ander voorwerp wat hy teekom stuur. Dan vat hy die nuwe voorwerp en kombineer dit op ‘n sekere manier met die voorwerp in sy boksie. Daarna vat hy sy selfoon, bel jou en gee vir jou een van 4 kodewoorde. Al wat jy dan hoef te doen is om een van 4 knoppies op jou boksie te druk wat ooreenstem met die kodewoord en siedaar! Die voorwerp in jou boksie het verander in die voorwerp wat die ander persoon vir jou wou stuur.

Klink dit dalk vir jou soos ‘n fantasie storie waar jy verwag om ook nog van towernaars, feetjies en drake te hoor?

Wel behalwe vir ‘n paar beperkings, is dit presies wat mens deesdae kan doen.

Die eerste beperking is dat die voorwerpe ter sprake almal kwantum toestand moet wees. Mens kan nou nie juis veel met so ‘n kwantum toestand in die alledaagse lewe doen nie. Jy kan nie jou hare daarmee kam nie, jy kan nie jou honger daarmee stil nie en jy kan nie eers daarmee dronk word nie. 😉 ‘n Kwantum toestand is iets soos ‘n foton met ‘n spesifieke polarisasie of ‘n atoom in ‘n opgewekde toestand (nee, nie soos in `vrolik’ nie). Verder is hierdie “boksie” waarin die kwantum toestand gestoor moet word, nou nie juis iets wat jy saam met jou strand toe kan vat nie, behalwe as jy in die gewoonte is om ‘n hele wetenskap laboratorium saam met jou strandbal en jou sonbrandolie in te pak.

Die manier waarop die kwantum toestand “gekombineer” moet word, impliseer dat daar ‘n sogenaamde “gesamentlike meting” gedoen moet word op die gestoorde toestand en die toestand wat oorgestuur moet word. In die proses word beide hierdie kwantum toestande vernietig, maar die resultaat van die meting gee een van 4 antwoorde. Hierdie antwoord moet na die persoon met die ander boksie gestuur word. Wat eintlik gebeur is dat die meting die voorwerp wat in die ander boksie is verander het na een van 4 moontlike toestande. Een van die 4 is presies dieselfde as die toestand wat oorgestuur moet word. Die ander drie kan deur ‘n eenvoudige transformasie verander word in die gewensde toestand. Dit is wat die knoppie op die boksie doen en dit is hoekom die resultaat van die meting as ‘n kodewoord oorgestuur moet word. Dis egter nie regtig nodig om die kodewoorde geheim te hou nie want niemand anders kan enigiets met die informasie doen as hulle nie daardie spesiale voorwerp (kwantum toestand) het nie.

Nou hoe is dit moontlik dat ‘n gesamentlike meting tussen twee kwantum toestande wat op een plek in die wêreld gedoen word ‘n ander kwantum toestand op ‘n ander plek in die wêreld kan verander? Die sleutel is geleë in die skep van verstrengelde kwantum toestande. Dit is dieselfde verstrengelde toestande wat nodig is vir die EPR paradoks waaroor ek so tyd terug geskryf het. Die twee spesiale gekoppelde “voorwerpe” in die boksies is dan inderdaad sulke twee verstrengelde kwantum toestande. Weens hul verstrengelde aard veroorsaak ‘n meting op een van die twee dat die ander een verander word.

Hierdie manier om ‘n kwantum toestand te verplaas van een plek na ‘n ander plek, word kantum teleportasie genoem. Dit is in 1993 vir die eerste keer voorgestel en in 1997 deur Anton Zeilinger en sy groep in Oostenryk eksperimenteel verwesenlik.

Vir my is hierdie ‘n fasinerende meganisme, maar of dit ooit eendag daartoe gaan lei dat mens rondge”beam” kan word twyfel ek sterk.

14 thoughts on ““Beam me up Scotty”

  1. Wel noudat jy dit noem, Louwie, ek weet nie of die Bybel enigiets daaroor noem nie. Ek het nog nie so iets teegekom sover ek kan onthou nie. Maar om dan regverdig te wees moet ons erken dat die hele idee nog maar wetenskapsfiksie is.

    Ek persoonlik dink nie eers dat dit ooit moontlik gaan wees om eers ‘n muis te telepoteer nie, wat nog te se van ‘n bobbejaan. Selfs indien dit dan moontlik sou wees, hoe sal jy bepaal of die bobbejaan se siel saamgekom het? Hoe weet jy of ‘n bobbejaan hoegenaamd ‘n siel het?

  2. Die moontlikheid om fisies vernietig te gewees het was baie groot Flippiefanus, daarom het hulle eers met honde en babbejane ge-eksperimenteer, dieselfde wat hulle sekerlik met telleportasie sal doen?
    Dan kan ons sommer kyk of die bobbejaan se siel saam met hom aan die anderkant uitkom!
    Is daar iets soos `n siellose liggaam volgens die Christelike manier van dink? Mens weet wat Andrew gaan sê, maar dit is sy opinie. Wat sê die Bybel daarvan?
    Ek dink die Jode het `n naam daarvoor, `n Golum of so iets?

  3. Nee Louwie daar is darem maar ‘n groot verskil. Die ruimtereise het nie geimpliseer dat iemand se liggaam fisiese vernietig word nie. So terloops, dink jy so eksperiment sal ‘n mens se siel ook teleporteer?

  4. Flippie, maar dieselfde etiek het toegelaat dat die eerste mense die ruimte in gestuur is en op die maan neergesit is?
    Jy sal verbaas wees hoeveel ouens in die tou gaan staan om die eerste te wees om te sê; beam me up Scotty! Wag maar, dit kom, en dalk gouer as wat ons dink …. dis nou as ons ons self nie voor die tyd gaan wegblaas in `n kernoorlog nie. Dit kom moontlik ook, en gouer as wat ons dink. Daar is mal ouens daar buite.
    mr. muller, kan jy asb vir ons `n link gee na daardie koperplaat eksperimente waarvan jy praat. Ek het al voorheen gehoor daarvan, maar kry niks op die net nie.

  5. Nee Louwie, daar is geen fundamentele beperkings in die geval van vlieg en selfone nie. As jy ‘n mens wil probeer teleporteer soos wat jy die polarisasie toestand van ‘n foton teleporteer impliseer dit dat jy die oorspronklike mens in ‘n “gesamentike meting” moet vernietig. Afgesien van die ontsagtlike probleme met “gesamentlike metings” van so aard, wie gaan die eerste een wees om sy lewe op die spel te plaas vir so eksperiment? Etiek in wetenskap laat jou nie toe om op so skaal met mense te eksperimenteer nie.

  6. Flippie, nie baie lank terug nie het mense nog geglo die menslike kiggaam kan nie `n spoed van meer as, ek dink dit was 30 myl per uur oorleef nie, en ons vlieg nou al teen die spoed van klank.
    Ook selfone was iets waaraan niemand gedink het nie, om nie eers te praat van TV beelde wat om die wêreld gestuur word nie.
    Iewers in die toekoms gaan teleportering so alledaags word as wat `n e-pos aan my suster in China vandag is. Die wetenskap is `n wonderlike, opwindende, onstuitbare ding.

  7. Jammer, ek het nie kommentaar gelees voor ek gepos het nie. Plaasjuppie het klaar die grappie gemaak.

  8. Very funny, Scotty. Now beam up my clothes

    (Moontlike reaksie, afhangende van omstandighede, op hoofopskrif.) >:-)

  9. Rustig, soos ek in die inskrywing noem het Anton Zeilinger dit reeds in 1997 gedoen. Sedertdien het ander roepe dot ook al gedoen.

  10. Flippie: As ek dit nie mis het nie dan is die eksperiment al gedoen op baie klein skaal met atome of wat ook al. Ek het dit een dag per toeval gesien op die Science Channel. Of dit regtig met mens gedoen kan word, twyfel ek.

  11. Mnr Muller, ek vermoed mens moet maar so bietjie sout begooi. 😉

    Plaasjuppie, 😆 oeps waar’s my klere 😆

    Die hoop is om hierdie tipe navorsing te gebruik vir sekure kommunikasie wat op hierdie beginsels gebasseer is. Dit kan ook lei tot nuwe tipe rekenaars wat baie vinniger as bestaande rekenaars kan werk.

    Dankie Mefri, bly jy vind dit interessant.

  12. hey, ek wil nou nie te ver afwyk van die onderwerp nie, maar lees toevallig dié raak:

    God óm en mét ons ín en déur energie
    (Wilhelm Jordaan, Die Burger 06/01/10)

    ‘n Gawe gedagte om 2009 mee te groet en 2010 te ontmoet – dié van die bioloog Erik Holm (Beeld-deurloop, 12 Desember) oor sy “ekologiese siening van die hiernamaals”.
    Hy skryf: “Die dinge wat mense gedink en gedoen het, het ‘n uitwerking wat sigbaar is in hul onmiddellike omgewing en dan uitkring in al hoe meer indirekte uitwerkings – soos ‘n uitkringende elektromagnetiese golf…”

    Waarmee hy sê die boosheid wat jy bedink en doen laat ‘n uitdyende “energiespoor”. So ook die goedheid wat jy bedink en doen.

    Dus: die goeie en bose “siel” leef as onvernietigbare energie voort – in ‘n hiernamaals wat tradisoneel onderskeidelik as “hemel” en “hel” verstaan is. En die uitwerkings daarvan duur vir altyd.

    Dit beteken sekerlik ook daar is soortgelyke sielsuitwerkings tydens ons aardse verblyf.
    Lank gelede al het die Dante (1265-1321) dié moontlikheid in sy Goddelike Komedie poëties verwoord: “Soos ‘n wiel wat glad en vry beweeg, kom die deernis wat die wil en begeerte bring tot die deernis wat die son en die sterre beweeg.”

    Wat Dante misties vermoed het – dat deernis soos energie is wat ongehinderd van een mens na ‘n ander kan vloei – is vandag deel van ondersoekende wetenskap.
    In die kwantumfisika word navorsing gedoen oor die meting van “kwantum-pakkette” uitgestraalde geestesenergie (“sielsenergie”) wat nie die gewone wette van energieverspreiding gehoorsaam nie en wat beskryf word as die uitwerking van “nie-lokale” gebeurtenisse.

    ‘n Voorbeeld hiervan is die sogenoemde “kopermuur-eksperiment” waartydens mediteerders van uiteenlopende spirituele oriënterings buitengewone hoeveelhede gemete energie uitstraal. Dié uitstralings is tot duisend keer meer as die normale stroomspanning eie aan die menslike liggaam.

    Die gebruiklike energieverspreidingsbeginsel behels dat hoe verder jy weg van ‘n energiebron is, hoe swakker word die energie wat jou bereik. Byvoorbeeld: hoe verder jy weg van ‘n aardbewing se episentrum is, hoe swakker is die uitwerking daarvan op jou.
    Juis die omgekeerde geld vir uitgestraalde geestesenergie. Dit beteken byvoorbeeld dat die intense deernis wat jy met ‘n ander mens oor ‘n afstand het, kan ongehinderd in tyd en ruimte by ‘n ander uitkom en as ‘n genesende, beskermende of omhelsende krag beleef word.
    Dit gebeur ongeag die vorm waarin die uitgestraalde energie “verpak” is – ‘n gebed, ‘n meditasie, ‘n gerigte gedagtegang of verbeeldingryke empatie.

    Om dus aan iemand in nood te sê: “Ek sal baie aan jou dink in die dae wat kom”, en om dit inderdaad empaties te doen, kan aanvoelbaar “ontvang” en beleef word.
    Baie mense is skepties oor sulke moontlikhede en reken dit is snert wat op onbewysbare anekdotes berus. Soos die wetenskapskrywer Carl Sagan sê, is dít vir diesulkes ‘n seker teken van hardnekkige geloof in ‘n “demon-haunted world”.

    Wat egter net so seker is, is dat die kwantum-fisika nuwe stukrag verleen aan pogings om sielsuitstralings wetenskaplik te ondersoek en te bevestig.

    Dit is duidelik dat die dieper lae van die misterie van ons mensheid steeds ontvouend is; dat die gehein van wie ons en hoe ons is soos ‘n kristal is wat elke keer met die optel daarvan nuwe konfigurasies van lig en kleur deurlaat.

    Wat ook seker is, is dat die versamelde kennis oor hierdie dinge ons verstaan en belewenis van “God” kan bedreig of verruim. Ek kies vir verruim met God as die immer-skuiwende Geheim wat onbegryplik ín en déúr uitgestraalde energie óm en mét ons is.
    In die (vertaalde) woorde van die digter Robert Frost: “Ons dans in ‘n kring en maak onsself wys/Maar die Geheim sit stil in die middel en swyg.”

  13. Wel . . . ek reken as jy nie heen en weer geteleporteer kan word nie, dan is daar ook nie ‘n kans dat Scotty jou klere kan vergeet nie. Very funny scotty, now beam down my clothes!

    Wat so die rede vir hierdie tipe navorsing wees, is daar een of ander tipe kommersiële aanwending in die oog?

  14. Flippiefanus, ek het met ingehoue asem gelees, dit is verskriklik interessant – ek is mal hieroor.

Comments are closed.