Daar is mens wat om een of ander rede glo dat die wetenskap onversoenbaar is met Christelike geloof. Onlangs het ek weer gelees waar iemand probeer redeneer dat evolusie en die Skepping teenoorgesteld van mekaar is en dat mens nie die evolusie teorie kan aanvaar as mens ‘n Christen is nie. Wel ek verskil.(Noodwendig gaan ek nou dinge hier herhaal waaroor ek alreeds verskeie kere ‘n mondvol kwytgeraak het. Vergeef my asseblief.)
Die Bybel is baie duidelik daaroor dat God die heelal en die mens en diere geskep het, maar die Bybel gee nie juis besonder baie informasie oor hoe God dit gedoen het nie. Nou is daar mense wat probeer om informasie oor hierdie saak uit die Bybel te onttrek deur spesifieke dele van die Bybel baie letterlik te probeer interpreteer. Ongelukkig lees hierdie mens hul Bybels baie selektief, want deur hierdie selektiewe interpretasie veroorsaak hulle dat daar teenstrydighede ontstaan ten opsigte van ander dele.
Een voorbeeld is waar mense beweer dat God die Skepping verrig het bloot deur die woorde te spreek. Dit is gebasseer op Genesis 1 waar God telkens se “Laat daar… wees.” Lees nou egter Genesis 2 en dan word daar gepraat van God wat die mens uit klei vorm. Dit is mos nou duidelik teenstrydig met die intepretasie dat God geskep het deur net te spreek.
Ek glo dat die fisiese megansisme van God se skeppingsaktiwitiet in sy totaliteit nie eers in beginsel vir die mens vertaanbaar is nie. Tog gee God aan ons die vermoë om ten minste ‘n deel daarvan te kan verstaan. Hy gee dit egter nie deur die Bybel nie. Nee Hy gee dit deur die wetenskap. Met die wetenskap kan mens God se skepping bestudeer, die wonder daarvan ervaar, en so God se Naam verheerlik.
Dit is ironies dat die meeste wetenskaplikes ongelowig is. Dit is amper asof God aan hiedie mense sê: “Al glo jy nie in My nie sal jy deur wat jy doen My Naam verheerlik, want jy sal My Skepping onthul sodat die hele wêreld die wonder van My Skepping kan sien.
Nou wat evolusie aan betref. Ek aanvaar biologiese evolusie as die beste teorie wat daar tans bestaan vir die ontstaan van die diversiteit in lewe wat op aarde bestaan. Daar is vir my niks teenstrydig tussen my Christelike geloof en die evolusie teorie nie. Die Bybel vertel ons dat God die diere en die mens op aarde gemaak het. Evolusie vertel vir my hoe God dit gedoen het. Die feit dat God my deur hierdie wetenskaplike werk ‘n venstertjie gee op hoe Hy te werk gegaan het is vir my wonderlik. Die megansimes wat daar aan die werk is, is eenvoudig verstommend. Dit skep by my baie meer ontsag vir God as wat ek sou gehad het as God dit gedoen het bloot deur die woorde te spreek. Dieselfde geld vir die ontwikkeling van die heelal volgens die oerknal teorie.
Laastens wie ek iets noem oor geloof. Baie maal wanneer ek iemand teëkom wat sulke goed glo wat afwyk van my siening, dan los ek die persoon, want ek besef dat wat die persoon glo oor hierdie tipe goed is nie baie belangrik nie. Of jy glo dat die aarde 6000 jaar oud is en of jy glo die aarde is 4.5 miljard jaar oud, is nie wat gaan bepaal of jy hemel toe gaan of nie. Dis of jy glo dat Jesus vir jou sondes gesterf het en weer opgestaan het wat bepaal of jy gered is. Wanneer mens egter hierdie oortuigings gebruik om ander mense te veroordeel en sodoende die deur probeer toemaak vir mense wat oor hierdie onbenullige goed van hulle verskil, dan voel dit vir my ek moet die saak regstel.