As voorbeeld: die wonder van ‘n ster

Onlangs het George Maru aan my ‘n baie spesiale uitnodiging  (“uitdaging” 😉 ) gerig:

Maar goed, as ek mag, sal ek graag ‘n uitdaging aan jou (of enige ander Christen) wil rig. Gee my ‘n rede om te glo.

So uitnodiging kry mens nie baie nie en al het ek in ‘n kommentaar ‘n paar redes verskaf voel ek, ek wil dit beter doen. Ek het vir hom in my kommentar gesê dat daar duisende redes is om te glo, bloot omdat die heelal duisende goed bevat wat so wonderbaarlik is, dat dit vir my as aanduiding van God en Sy almag dien. Hier wil ek een spesifieke ding in die skepping vat en al die fasette daarvan bespreek om te wys dit hierdie een ding alreeds ‘n klomp redes bied om in God te glo.

In ‘n vorige inskrywing, Sterretjies en die internet, het ek ‘n estimasie gegee van hoeveel sterre daar in die heelal is. Hier wil ek nou beskryf hoe ‘n besondere ding elke ster is.

Mens kan amper aan God in die geval dink as ‘n ingenieur wat iets wil ontwerp om sekere take te verrig. Die doel in hierdie geval is om op die ou ent lewe, intelligensie en kultuur tot stand te bring. (Daar mag natuurlik nog dinge van hoër kompleksiteit later in die heelal ontwikkel, maar tans is dit sekere die hoogste vorme van kompleksiteit waarvan ons bewus is.) Om lewe en die res te vermag is daar sekere goed nodig soos ‘n relatief stabiele omgewing waarin daar die nodige grondstowwe en energie beskikbaar is. Die aarde (met ander woorde, ‘n planeet) is so plek, maar dit opsig self moet uit die nodige materie gevorm word en dit moet van iewers af die nodige energie kry. Die enigste materie wat aanvanklik in die heelal beskikbaar was, is waterstof (en so klein bietjie helium).

Om die doel te bereik ontwerp God toe die meganisme van ‘n ster. Hy ontwerp eerstens die gravitasie krag sodanig dat dit geen afskerming het nie — hoe meer massa mens het, hoe groter die aantrekkingskrag. So, as mens nou ‘n wolk waterstofatome het begin dit mekaar aantrek sodat die wolk kleiner en digter word. Sodoende word die aantrekkingskrag groter. Die gevolg is dat die wolk inval.

Die wolk sou aanhou inval as God dit nie bewerk het om op ‘n stadium die proses te stop nie. Hier slaan Hy sommer ‘n paar vlieë met een klap. Danksy die behoud van energie word die potensiële energie in kinetiese energie omgesit wat uiteendelik veroorsaak dat die wolk al warmer word. Nou skop ‘n nuwe meganisme in. Die waterstof atome beweeg nou so vinnig dat hulle kerne deur die afstotende omhulling van mekaar se elektronwolkies kan kom om met mekaar saam te smelt. Die proses wat daar plaasvind is nogal ingewikkeld, maar in die proses word helium gevorm en word daar ‘n klomp energie vrygestel in die vorm van lig. Hierdie lig veroorsaak bestralingsdruk wat sterk genoeg is om die invalsproses te stuit.

Nou val die wolk nie meer in nie. Dit brand nou as ‘n ster in die ruimte. Terselfdertyd verskaf dit die energie wat nodig is vir die ontwikkeling van lewe. Afhanklik van hoe groot die ster is kan dit vir tot duidende miljoene jare brand en energie verskaf. Die brandingsproses is soos ek hierbo noem redelik ingewikkeld. Hans Bethe was een van die fisici wat hierdie prosesse uitgewerk het. Dit is merkwaardig dat die elemente van die periodieke tabel die eienskappe het om hierdie prosesse te kan moontlik maak.

Goed, die energie vereiste vir lewe is nou daar, maar wat van die materie? Die heelal het aanvanklik net waterstof bevat. As die ster net die basiese verbrandingsproses gehad het sou daar slegs helium gevorm gewees het met so klein hoeveelhede van die ander elemente. Daar is baie meer elemente nodig, suurstof, koolstof, stikstof, en nog vele meer. Wel soos die sterre ouer word, verander die brandingsproses binne die ster om ook van die ander elemente te vorm. Sodoende produseer dieselfde ster wat die energie verskaf sommer ook terselfdertyd die materie wat nodig is vir lewe.

Nou is daar egter ‘n probleem. As die ster klaar uitgebrand het dan sit al die materie nog in die uitgebrande ster. Hoe kry ons dit daaruit om deur die heelal versprei te word sodat planete gevorm kan word wat kan lei tot die ontwikkeling van lewe? Verder nog vat dit vir ‘n ster so groot soos die son omtrent net so lank as wat die heelal op die oomblik oud is om klaar te brand. Wie wil nou so lank wag vir die materie om geproduseer te word? Wel God het sterre so ontwerp dat hoe groter hulle is hoe vinniger brand hulle. ‘n Baie groot ster kan in ‘n kwessie van ‘n paar miljoen jaar uitgebrand wees.

Om die probleem van die verspreiding van die materie op te los doen God twee dinge. Aan die einde van die leeftyd van sterre blaas hulle op en vorm rooi reuse. In die proses blaas die ster letterlik die buitense lae weg van hom af. Hierdie materie word dus vrygestel aan die ruimte en kan nou vermeng met die waterstof waaruit volgende sterre gevorm word.

Daar is nog ‘n meer skouspelagtige manier om die materie te versprei. As die sterre groot genoeg is (onthou groot sterre is eerste klaar gebrand) en hulle het klaar die buitenste lae afgeskud, dan ontplof dit wat oorbly in ‘n proses wat beken staan as ‘n supernova. Hierdie ontploffings is van die geweldadigste prosesse wat kan plaasvind in die heelal. Hierdie ontploffing is nog meer effektief om die gevormde materie deur die heelal te versprei.

Supernovas verrig egter nog twee ander funksies wat help met die vorming van planete en uiteindelik lewe. Die normale verbrandingsprosesse wat binne ‘n ster plaasvind kan slegs elemente vorm tot en met yster, want vanaf waterstof tot by yster verlaag die energie toestand van die kern van so element, wat impliseer dat energie vrygestel word. Na yster moet energie toegevoeg word om die kerne van elemente met meer protone te vorm. Omdat supernovas sulke geweldadige prosesse is kan die swaarder elemente, soos silwer, koper, goud en tin, wat na yster in die periodieke tabel kom gevorm word. Hierdie swaarder elemente word dan ook danksy die supernova ontploffing deur die heelal versprei.

Die ander funksie wat ‘n supernova ontploffing verrig is om ‘n skokgolf te vorm wat effektief die materie bymekaar stoot sodat dit wolke vorm en die vorming van nuwe sterre aanhelp. Hierdie wolke bevat dan nou genoeg diverse materie om sterre met planete rondom te vorm. Sodoende is die situasie nou reg vir die ontwikkeling van lewe.

Sterre is vir my uiters besondere goed. Met hierdie een verskynsel het God dit reggekry om baie van die uitdagings in die proses om lewe te vorm uit die weg te ruim. ‘n Ster is ook vir my ‘n metafoor vir kultuur en die liefdesbeginsel. Elke waterstofatoompie offer homself op om met ander waterstofatoompies saam te smelt en in die proses iets noodsaakliks te vorm. In die proses laat hulle lig skyn wat op die ou end saam die lig vorm wat die ster laat skyn.

——————————

George het nie net vir my nie, maar vir ander Christene ook gevra (uitgedaag) om redes te gee om te glo. Daarom wil ek ‘n tag begin en ‘n paar mede-Christene hier in die woerwêreld tag om elkeen een rede vir geloof te beskryf. So ek tag vir: Sonkind, Boerinballingskap en Sammi.