Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade.
Die Christen word gered op grond van geloof, maar wat glo jy?
Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die duiwels glo dit ook en hulle sidder van angs.
Wat is die geloof dan wat die Christen onderskei van die nie-Christen? Die evangelie, maar wat gehels dit? Is dit om te weet dat Jesus Christus die Seun van God is; om te weet dat God mens geword het sodat ons verlos kon word; om te weet dat God in Christus die prys betaal vir ons verlossing; om te weet dat Jesus Christus die dood oorwin het toe God hom uit die dood opgewek het? Kan mens die volle omvang van dit wat God oor homself aan ons geopenbaar het weet en glo en steeds met ‘n koue hart rondloop?
Nee!
Geloof verander optrede. Optrede word ‘n simptoom van geloof. Aan die vrugte wat jy dra word jy as gelowige geken. Watter optrede? Hoe lyk die `vrugte’ wat ‘n Christen dra? Dit lyk soos die Vrug van die Heilige Gees:
…liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.
Is hierdie vrug nog relevant in vandag se lewe? Is die optrede waaraan die gelowige herken word, ‘n optrede wat mens nog kan volg in ‘n moderne wetenskaplike wêreld? Ja, ja, ja, inderdaad. Die Christelike beginsels is allesomvattend.
In die tyd waartydens die Bybel geskrywe is, was daar nie so iets soos aardverwarming nie. Beteken dit dat die Christen nie weet hoe om die kwessie van aardverwarming te hanteer nie? In teendeel, die Christelike beginsels berei die Christen baie goed voor om te weet hoe om aardverwarming te benader. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Jou nageslag is ook jou naaste, dus moet jy sorg dat hulle dieselfde kans op oorlewing het as wat jy het, en as daar by jou enige twyfel is oor die moontlike nagevolge moet jy hulle die voordeel van die twyfel gee.
Daar was ook nie kernwapens toe die Bybel geskryf is nie. Beteken dit dat die Christen nie weet hoe die kwessie van kernwapens benader moet word nie? Weereens is die Christen baie goed toegerus om te weet hoe om die kwessie van kernwapens en ander wapens van massa uitwissing te hanteer. Hoe kan jy beweer dat jy jou naaste liefhet as jy sulke wapens goedpraat?
Wat van die kwessie van genetiese navorsing of kunsmatige intelligensie? In so verre sulke tegnologie kan lei tot die benadeling van enigiemand of van God se skepping is dit nodig dat daar die nodige beperkings op geplaas word. Ongelukkig is dit nog te vroeg om duidelik te kan sien wat die moontlike nagevolge kan wees.
Mens kan nie die ontwikkeling van die wetenskap stuit nie. Wetenskap is ook nie opsig self iets slegs nie. Soos die mens se kennis toeneem is daar egter ‘n toenemende kans dat die mens homself ernstig kan benadeel, selfs totaal uitwis. Saam met die kennis kom daar dus ‘n groot verantwoordelikheid. Wetenskaplikes en die besigheidswêreld wat op die wetenskap floreer tree nie altyd met die nodige verantwoodelikheid op in hul doen en late nie. Die wetenskaplike is meer besorg oor roem en selfverheerliking en vir die besigheidsman gaan dit oor geld.
Voeg nou egter Christenskap by — ‘n ware geloof wat mens kan sien deur die optrede van die persoon — dan kom die verantwoordelikheid vanself by. Die Christen wetenskaplike of Christen besigheidsman weet dat dit nie gaan oor selfverheerliking of selfverryking nie, maar eerder oor liefde vir jou naaste in balans met liefde vir jouself, en in gehoorsaamheid aan God.
Geloof in God is dus wel daartoe instaat om te verhoed dat die mens homself uitwis.
Sal God die mens te hulp snel as hy wel begin om op groot skaal droog te maak? Helaas nie. Verantwoordelikheid impliseer ook aanspreeklikheid en ‘n deel van aanspreeklikheid is om te leef met die gevolge van ‘n mens se dade. Op die ou end is dit ‘n leer proses. Soos die ou mense gesê het, as jy nie wil hoor nie moet jy voel.
